Gaan na inhoud

Renoster

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Renoster
Tydperk: Eoseen–Onlangs
'n Witrenoster by Mpofu, Oos-Kaap, Suid-Afrika
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Rhinocerotidae

Gray, 1821
Genera

Ceratotherium
Dicerorhinus
Diceros
Rhinoceros

globale verspreiding

Die renoster is die grootste lewende landsoogdier met die uitsondering van die olifant. Daar bestaan tans vyf spesies renosters wêreldwyd: drie spesies in Asië en twee in Afrika. Albei spesies van Afrika, naamlik die witrenoster en die skaarser swartrenoster, is ook inheems aan Suid-Afrika. Die meeste renosters is bedreigde spesies.

Renosters word veral gekenmerk deur die horings wat aan die voorkant van hul kop groei. Die horings bestaan uit keratien, dieselfde materiaal as menslike naels en hare, maar word in sommige lande fyngemaal en in tradisionele medisyne gebruik. Daar is dus 'n groot aanvraag na renosterhoring, en per gewig kan dit dieselfde prys as goud op die swartmark haal. Suid-Afrika het tans 'n baie groot probleem met renosterstropery, en honderde renosters word jaarliks onwettig vir hul horings gejag.[1]

Benaming

[wysig | wysig bron]

Die naam renoster kom via Latyns vanaf die Grieks ῥῑνόκερως (rhinokeras), wat 'n samestelling van ῥῑνο (rhino) betekende "neus" en κέρας (keras) betekende "horing" is. In Nederlands word daar dan deesdae wel van 'n "neushoorn" gepraat. Dit is 'n leenvertaling van die oorspronklike Griekse woord. Net soos in die geval met kameelperd het Afrikaans die outydse Latynse benaming behou, terwyl moderne Nederlands 'n nuwe naam vir die dier gekry het.[2]

Daar heers 'n mate van onsekerheid oor waar die name wit- en swartrenoster vandaan kom, aangesien daar byna geen kleurverskil tussen hulle is nie. Een algemene verklaring is dat die Afrikaanse/Nederlandse naam wat destyds vir die witrenoster gebruik is die wye/wijderenoster was. Dit sou na die grasvretende witrenoster se wye bek verwys het. Die Engelse sou dan hierdie wyd foutiewelik as white vertaal het, en dit sou dan weer op sy beurt in Afrikaans vertaal word as witrenoster.[3] Die swartrenoster sou dan die teenoorgestelde van die witrenoster wees.

Hierdie verklaring word egter betwis, en daar is geen duidelike antwoord te vinde nie.[4] Die gebruik van "wyd"- of "wydbek"-renoster is nêrens in 18e en 19e eeuse Nederlandse geskrifte aan die Kaap opgeteken nie. As dit 'n algemene naam vir die dier was sou mens verwag het dat dit ten minste êrens genoem word. In Engels is die naam white rhinoceros vir die eerste keer in 1798 opgeteken, en van die begin af was daar bespiegelings oor die naam se oorsprong. Daar is 'n hele reeks verduidelikings wat oor die volgende eeu voorgestel is, onder meer dat die witrenoster moontlik effens ligter as die swartrenoster is; die swartrenoster se vel is met mis en modder besmeer wat hom 'n swart voorkoms gee, of die witrenoster se horing is ligter gekleurd aan die binnekant.[3][4] Die teorie dat white rhinoceros 'n korrupsie van 'n Afrikaanse woord is, is eers in 1930 geopper en het aanvanklik nie veel aanhang geniet nie, maar is in die 1950's gepopulariseer. Dit is dus net een van etlike teorieë.[4]

Voorkoms

[wysig | wysig bron]

Die renosterfamilie (Rhinocerotidae) is herbivore wat gekenmerk word deur hulle aansienlike grootte (meer as 'n ton in gewig), 'n dik beskermende vel van 1,5 – 5 cm dik, betreklike klein breinvolumes (500 – 600 g) in vergelyking met hul liggaamsgrootte, en die teenwoordigheid van een of meer groot horings vooraan hulle koppe.

Die gemiddelde gewig van volwasse renosters wissel van 700 – 800 kg vir die kleinste spesie, die Sumatraanse renoster, tot meer as 2000 kg vir die Wit- en Indieserenosters. Die grootse witrenosters weeg in die omgewing van 3600 kg. Die renosterbulle is gewoonlik swaarder as die koeie.

Sommige spesies, soos die wit- en Indieserenosters eet meestal gras, terwyl ander spesies, soos die swart- en Sumatraanse renosters oorwegend blare eet. Renosters het nie voortande wat gebruik word om plantmateriaal mee af te byt nie, maar gebruik eerder hul lippe om kos mee te pluk. Hulle lippe het dan ook kenmerklike vorme, met grasvretende renosters wat plat breë lippe het wat goed werk om gras mee te pluk, en blaarvretende renosters wat skerper gepunte lippe het.

Die renosters in Suid-Afrika (wit- en swartrenosters) asook die Sumatraanse renoster het almal twee horings. Die voorste horing is aansienlik groter as die agterste een. Ander spesies, soos die Indiese- en Javaanse renoster het egter slegs een horing.

Verskillende spesies

[wysig | wysig bron]

In die moderne era is daar vyf renosterspesies: die witrenoster en swartrenoster in Afrika, en die Javaanse renoster, Sumatraanse renoster en Indiese renoster in Asië.

Witrenoster

Die witrenoster (Cerarotherium simum) van Afrika is die renosterspesie wat nog die volopste in die wêreld voorkom. Die totale bevolking van hierdie soort beloop 20 170 indiwidue (2010) in die natuur, waarvan die oorgrote meerderheid van 18 800 indiwidue (2010) in Suid-Afrika voorkom.[5] Die witrenoster het, nes die swartrenoster, twee neushorings, maar 'n meer "vierkantige" bolip as die swartrenoster s'n. Hierdie lip gebruik hy om gras na sy mond te "vee". Aangesien dit 'n grasvreter is, word die witrenoster gewoonlik gesien met sy kop teneergebuig.

Twee witrenosters by Waterberg, Namibië.
Swartrenoster

Die swartrenoster (Diceros bicornis) is baie skaarser as die witrenoster. Na raming was daar in 2010 nog slegs 4 880 van dié renosterspesie in lewe. Hoewel hierdie getal 'n verdubbeling van die getal swartrenosters in 1995 verteenwoordig, is dit steeds 90% minder as wat daar drie (mens)geslagte tevore was.[6] Dié renostersoort het ’n lang, gepunte bolip (in teenstelling met die vierkantige bolip van die witrenoster), wat gebruik word om blare en fyn takkies beet te kry om te vreet. Hierdie renoster word daarom, in teenstelling met die witrenoster, gewoonlik met sy kop omhoog waargeneem.

'n Swartrenosterkoei en haar kalf in die Nasionale Etoshawildtuin, Namibië
Javaanse renoster

Die Javaanse renoster (Rhinoceros sondaicus) is die mees bedreigde renostersoort. In die Nasionale Ujong Kulon-wildtuin op Java (Indonesië) is daar net nog 60 van hulle oor. In 2010 is die laaste Javaanse renoster in Viëtnam deur stropers afgemaai.[7] Hulle massa kan vergelyk word met die Swartrenoster s'n (900 -2300 kg). Daar is net een horing wat tot 20 cm lank kan word. Hulle is woud-lewend.[8]

'n Tier val 'n Javaanse renosterkalfie aan
Sumatraanse renoster

Die Sumatraanse renoster (Dicerorhinus sumatrensis) is die kleinste lewende renostersoort, met 'n gemiddelde gewig van so 700-800 kg. Alhoewel hulle oorspronklik in byna die hele Suidoos-Asië voorgekom het, is hulle deesdae kritiek bedreig, en slegs in Sumatra, Borneo en Maleisië te vinde. Daar is waarskynlik minder as 250 Sumatraanse renosters oor. Die renoster word gekenmerk deur voue in sy dik vel, wat soos ringe rondom sy lyf loop. Daar is twee voue; 'n opmerklike vou net agter sy voorpote, en 'n minder prominente vou net voor sy agterbene.

Die Sumatraanse renoster se vel vorm plooie net agter die voorpote en net voor die agterpote
Indiese renoster

Die Indiese renoster (Rhinoceros unicornis) kom in 'n paar streke in noord-Indië voor en die oorblywende bevolking staan op sowat 2600. Hulle het slegs een horing, en hul lyf word bedek deur dik plooiende vellae wat soos skilde of pantserwering lyk. Die Nederlandse naam vir die dier is dus ook 'n pantserneushoorn. Gemiddelde massa is tussen 1800 en 2200 kg.

Die Indiese renoster se vel is prominent geplooid sodat dit na pantserlae lyk

Daar is talle uitgestorwe spesies, soos die Wolhaarrenoster en die drie spesies Aceratherium.

Filmografie

[wysig | wysig bron]
Grafiese voorstelling van die getal renosters wat jaarliks in Afrika gestroop word.[9]

Die omgewingsjoernalis, Bonné de Bod, is die vervaardiger en aanbiedster en die filmvervaardiger, Susan Scott, is die regisseur van die bekroonde dokumentêre rolprent, STROOP, wat handel oor die Suider-Afrikaanse renosterstropery-krisis.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  1. Gouws, Andries (8 Oktober 2010). "Kan renosterstropers gestuit word?". Landbouweekblad: 4–6.
  2. http://www.etymologiebank.nl/trefwoord/neushoorn
  3. 3,0 3,1 ETIMOLOGIEWOORDEBOEK VAN AFRIKAANS (EWA) EN SUPPLEMENT op CD
  4. 4,0 4,1 4,2 Rookmaker (2003) "Why the name of the white rhinoceros is not appropriate", Pachyderm Jan-Jun 2003, toegang via http://www.rhinoresourcecenter.com/pdf_files/117/1175858144.pdf Geargiveer 12 September 2016 op Wayback Machine op 11 Junie 2016
  5. Emslie, R. (2012). ""Ceratotherium simum"". IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2014.2. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 9 September 2014. {{cite web}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
  6. Emslie, R. (2012). ""Diceros bicornis"". IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2014.2. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 9 September 2014. {{cite web}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
  7. "worldwildlife.org" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2020.
  8. "savetherhino.org" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2017.
  9. Data van die International Rhino Foundation

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]