Gaan na inhoud

Michail van Rusland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Michail
Tsaar van die hele Rusland
Tsaar Michail
Dinastie Romanof
Bewind 1613–1645
Kroning 22 Julie 1613
Volle naam Michail Fjodorowitsj Romanof
Gebore 12 Julie 1596
Gesterf 13 Julie 1645
Voorganger Tyd van Beroeringe (Wasili IV)
Opvolger Aleksei
Gade Maria Wladimirowna Dolgoroekowa
Jewdokia Loekjanowna Stresjnewa
Kinders O.a. Aleksei
Vader Patriarg Filaret (Fjodor Romanof)
Moeder Ksenija Iwanowna Sjestowa (Marfa)

Michail Fjodorowitsj Romanof (Russies: Михаи́л Фёдорович Рома́нов) (Moskou, 12 Julie 1596Moskou, 13 Julie 1645) was die eerste tsaar van Moskowië (later Rusland) uit die Huis van Romanof.

Fjodor Romanof as patriarg Filaret

Geboorte tot kroning

[wysig | wysig bron]

Michail is in 1596 in Moskou gebore as die vierde seun (vyfde kind) van Fjodor Nikititsj Romanof en Ksenija Iwanowna Sjestowa. Die familie se opgang het begin toe Anastasia Zacharina, wie se familie hulle van later na Romanof verander het, in Februarie 1547 met die jong Iwan die Verskriklike trou. Iwan vermoor sy oudste seun by Anastasia, Iwan jr., tydens ’n rusie; die jonger Fjodor, ’n vroom en lustelose prins, volg dus sy pa op.

Regdeur Fjodor se bewind wedywer sy swaer Boris Godoenof en sy Romanof-neefs om mag. Toe Fjodor sonder kinders sterf, kom die 700 jaar oue Moskouse lyn van die Rjoerik-dinastie tot ’n einde. Ná ’n lang stryd kry Godoenof en sy ondersteuners die oorhand oor die Romanofs en Godoenof word tot tsaar verkies. Sy wraak op die Romanofs is skrikwekkend: die hele familie en hul verwante word na afgeleë dele van die Russiese Noorde en Oeral-streek gestuur waar die meeste van honger of in kettings sterf. Die leier van die familie, Michail se pa, Fjodor, en sy vrou word gedwing om ’n monnik en non te word. Hulle neem die name Filaret en Marfa aan.

’n Skare by die Apatijef-klooster probeer Michail Romanof se ma oorreed om hom na Moskou te laat gaan as Rusland se nuwe tsaar.

Die Romanofs se geluk verander weer drasties met die val van die Godoenof-dinastie in 1606. As ’n voormalige leier van die anti-Godoenof-party en neef van die laaste wettige tsaar, word Filaret hooggeag deur verskeie swendelaars wat tydens die Tyd van Beroeringe probeer voorgee het hulle is Dmitri, die jongste seun van Iwan die Verskriklike wat op ’n jong ouderdom vermoor is. Vals Dmitri I maak Filaret ’n aartsbiskop en onder Vals Dmitri II word hy patriarg. Ná die verdrywing van die Pole uit Moskou in 1612 bied die Landsraad die troon vir verskeie prinse aan, maar almal wys dit van die hand.

Filaret se 16-jarige seun, Michail, het toe saam met sy ma in die Ipatijef-klooster in Kostroma gebly. Op 21 Februarie 1613 verkies die Landsraad Michail eenparig tot tsaar. Toe hy die troon aangebied word, bars hy in trane uit uit vrees en wanhoop. Sy ma oorreed hom eindelik om die troon te aanvaar. Hy kan egter nie dadelik gekroon word nie omdat Moskou in puin gelê het ná al die gevegte. Op 22 Julie 1613 word hy op 16-jarige leeftyd in die Kremlin van Moskou gekroon tot tsaar.

Regering saam met sy pa

[wysig | wysig bron]

Sedertdien, tot met sy dood, het Moskowië in werklikheid twee heersers, tsaar Michail en sy pa, die "heiligste patriarg Filaret". Teoreties is hulle mede-heersers, maar Filaret gaan dikwels ooreenkomste aan sonder om die tsaar te raadpleeg. Sy belangrikste binnelandse maatreël is om die landbouers aan die grond te bind om sodoende die groter wordende aantal verdrukte lyfeienes te keer om na die steppe uit te wyk waar hulle Kosakke word in plaas van belastingbetalers.

Filaret se beywering vir die reinheid van ortodoksie laat hom soms buitensporig optree, maar hy moedig die publikasie van teologiese werke aan en beveel dat elke aartsbiskop ’n kweekskool moet stig, en hyself stel die voorbeeld. Hy herorganiseer ook die Moskowiese leër met behulp van buitelandse offisiere. Die dubbele leierskap duur tot 1633, toe Filaret sterf.

Michail regeer nog 12 jaar, maar laat die bestuur oor aan sy raadgewers. Hulle was soms bekwaam, maar soms ook korrup en onverdraagsaam.

Persoonlike lewe

[wysig | wysig bron]

Michail trou op 19 September 1619 met prinses Maria Dolgoroekowa. Sy sterf egter vier maande ná die geboorte van haar eerste kind.

Hy trou vir ’n tweede keer op 5 Februarie 1626 in Moskou met Jewdokia Stresjnowa. By haar het hy 10 kinders:

  • Irina (22 April 1627 – 8 Februarie 1679)
  • Pelageja (20 April 1628 – 25 Januarie 1629)
  • Aleksei (19 Maart 1629 – 29 Januarie 1676) – Tsaar van Rusland
  • Anna (14 Julie 1630 – 27 Oktober 1692)
  • Marfa (14 Augustus 1631 – 21 September 1633)
  • Iwan (1 Junie 1633 – 10 Januarie 1639)
  • Sofia (14 September 1634 – 23 April 1636)
  • Tatjana (5 Januarie 1636 – 23 Augustus 1706)
  • Jewdokia († 10 Februarie 1637)
  • Wasili († 25 Maart 1639)

Michail sterf op 13 Julie 1645 op 49-jarige leeftyd aan watervergiftiging. Hy word begrawe in die Kremlin van Moskou. Sy seun Aleksei volg hom in die ouderdom van 16 jaar op as tsaar en regeer saam met die bojaar Boris Morozof.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Michaël I van Rusland