Gaan na inhoud

Leopoldo Mugnone

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Mugnone (1910)

Leopoldo Mugnone (29 September 1858, Napels22 Desember 1941 in Capodichino, Napels) was 'n Italiaanse dirigent van veral operamusiek. Sy bekendste werk is in die tydperk 1890-1920 in Europa en Suid-Amerika verrig. Hy het verskeie opera premières gedirigeer en het ook operas gekomponeer.

Opleiding

[wysig | wysig bron]

Hy was die seun van Antonio Mugnone, die hoof kontrabasspeler in die orkes van die San Carlo-teater in Napels. Mugnone studeer van jongs af aan die Koninklike Konservatorium San Pietro a Maiella onder Paolo Serrao en Beniamino Cesi. Op 12-jarige ouderdom komponeer hy sy eerste teaterwerk, 'n Opera buffa werk getiteld Il Dottor Bartolo Salsapariglia. Hy het gehoop om deel te te hê aan die basso comico-rol, alhoewel hy op daardie stadium slegs oor 'n alt-stem beskik het. Op 16-jarige leeftyd begin hy dirigeer. 'n Jaar later word hy aangestel as koorregisseur vir 'n operettegroep in die Teatro Nuovo, wat gelei is deur F. Sadowsky. Hierna gaan hy na die Garibaldi-teater, eers as koormeester en later as concertatore. In die 1870's komponeer hy in Napels twee verdere operettes, Don Bizzarro e le sue figlie (1 bedryf stuk), en Mamma Angot al serraglio di Costantinopoli (drie bedrywe).

Mugnone was die leermeester van die dirigent Uriel Nespoli.

Vroeë loopbaan

[wysig | wysig bron]
Leopoldo Mugnone in 'n 1896 karikatuur

Mugnone het sy reputasie in Italië en oorsee gevestig en 'n toer saam met die kontrabasspeler Bottesini onderneem. In 1887 dirigeer hy tydens 'n enkele seisoen in die Costanzi-teater (Rome) La forza del destino en Filippo Marchetti se Ruy Blas. Hierna het die uitgewer Sonzogno, wat sy potensiaal raakgesien het, hom onder sy vlerk geneem: in 1888 dirigeer hy onder andere by La Scala, by die Théâtre de la Gaîté in Parys, en by die Municipale in Nice. Volgens Giuseppe Depanis was sy opvoering in 1888 van Bizet se Carmen met Luisa Borghi by die Carignano in Turyn die laaste artistieke ervaring wat Friedrich Nietzsche geniet het voor sy geestesineenstorting.[1]

Leopoldo Mugnone (regs, sittende) in a 1899 foto met (onder andere) Giuseppina Pasqua, Teresa Stolz en Giuseppe Verdi in Montecatini Terme.

Mugnone is hoog aangeslaan deur Verdi, wat veral sy opvoerings van Otello en Falstaff bewonder het en 'n vriend van die dirigent geword het. Na 'n opvoering van Falstaff in Mei 1894 by die Paryse Opera, skryf Boito aan Verdi: "Mugnone het die hele partituur met 'n groot penetrasievermoë verstaan." Met dieselfde werk het Mugnone op 16 Mei 1897 die eerste konsert van die Teatro Massimo in Palermo gegee. 'n Verhaal wil dit hê dat hy een keer 'n partituur in die hande gekry het met Toscanini se aantekeninge daarop en dit van hom weggewerp het en gesê het: "Bah! Puzza di Parma!" (Dit stink na Parma). [2] Die Verdi-eeufeesviering in La Scala in Oktober 1913 is geopen met 'n onvergeetlike uitvoering van Nabucco wat hy verwerk en gedirigeer het.

Sy eie komposisies, en baie van sy belangrikste premières, was egter deel van die veld van verismo opera. In 1890 gee hy die opspraakwekkende première van Mascagni se Cavalleria rusticana (wie die Concorso Sonzogno met die werk gewen het) by die Costanzi, met Gemma Bellincioni en Roberto Stagno. Hierna is hy deur komponiste van die jonger skool opgesoek, synde dat hy waarskynlik iemand was wat hul werke simpatiekgesind sou wees. Sy eie opera, Il biricchino (Venesië 1892), het nie goed gevaar in Wene nie. Nadat dit in 1892 in die Teatro dell'Esposizione aangebied is, het die kritikus Hanslick dit as 'n middelmatige en aanstootlike werk gebrandmerk. Dit is egter in 1893 in Barcelona opgevoer. Mugnone het bekendheid verwerf met ander herlewings van belangrike operas, insluitende Gluck se Orfeo ed Euridice, Rossini se Guglielmo Tell , en Berlioz se La Damnation de Faust in die oorspronklike vorm daarvan (oratorium). Tydens die Paryse tentoonstelling van 1899 het hy 'n Grand Opera-seisoen gedirigeer.

Mugnone het die wêreldpremière van Tosca in 1900 in Rome gedirigeer (met onderbrekings as gevolg van 'n bomdreigement). [3] Sy eie opera, Vita Brettona is die eerste keer in 1905 in Napels opgevoer. Tussen 1904 en 1906 het hy besige seisoene by Covent Garden gehad, terwyl hy Andrea Chénier (met Strakosch, Giovanni Zenatello en Mario Sammarco), Don Giovanni (Strakosch en Mattia Battistini), Madame Butterfly (met Giachetti), Faust en La traviata (met Nellie Melba ), Manon Lescaut, Bellini se La bohème, Tosca, Mefistofele, Aida, Un ballo in maschera en Rigoletto (met Melba, Riccardo Stracciari en Battistini) opgevoer het. [4] Hy het die eerste Londense uitvoerings van Francesco Cilea se Adriana Lecouvreur (November 1904) en Giordano se opera Fedora (November 1906, met Giachetti en Zenatello) gegee. [5]

Hy het die eerste uitvoering van Franchetti se La figlia di Iorio (ná 'n teks van d'Annunzio) in La Scala in 1906 gegee. (Soos Mugnone, was Franchetti 'n student van Serrao). Hy het in Maart 1906 die bekende La Scala-debuut van Eugenia Burzio as Katiusha in Risurrezione deur Franco Alfano (nog 'n Serrao-leerling) gedirigeer. In 1910 (17 Maart) het hy die premiere van Umberto Giordano se Mese Mariano in die Teatro Massimo gegee.

Ander Italiaanse premières van die tydperk wat deur hom gegee is sluit in:[6]

  • Carlotta Clépier deur Pietro Floridia (Napels, Circo Nazionale, Mei 1882);
  • Regina e Contadina di Sarria (Napels, Teatro dei Fiorentini, 24 Junie 1882, met Gemma Bellincioni en Antonio Pini-Corsi);
  • Medgé deur Spyridon Samaras (Rome, Costanzi, 11 Des. 1888, met Emma Calvé en De Vries);
  • Il Conte di Gléichen deur Salvatore Auteri-Manzocchi (Rome, 1888-89 seisoen);
  • Le Cid deur Massenet (eerste produksie in Rome);
  • Patria deur Emile Paladilhe. (Rome, herfs 1888);
  • Djamileh deur Bizet, (Rome, 1889-90 seisoen, met Bellincioni);
  • Orfeo ed Euridice deur Gluck, (herlewing, Rome 1889);
  • Labilia deur N. Spinelli (Rome, 9 Mei 1890, met Bellincioni en Stagno);
  • Andrea del Sarto deur Baravalle en Spartacus deur Pietro Platania (Rome, 1890-91 seisoen, met Mme Marconi en Cattaneo);
  • Rudello deur Vincenzo Ferroni (Rome, 28 Mei 1890, met Bellincioni e Stagno);
  • I Pagliacci deur Leoncavallo (aanvanklik in Rome, Teatro Nazionale, 1892);
  • Le Villi deur Puccini (eerste produksie in Rome, Costanzi, 28 Oktober 1899, met Pasini en R. Galli);
  • Werther deur Massenet (eerste produksie in Rome, 30 Desember 1899, met Savelli en De Luca);
  • Sapho deur Massenet (eerste produksie in Rome, 20 Maart 1900, met Bellincioni en Moreo);
  • Le Maschere deur Mascagni (Napels, San Carlo, 19 Januarie 1901, met Angelica Pandolfini, Giachetti e Schiavazzi).

Suid- Amerika

[wysig | wysig bron]

Dit was deur Sonzogno dat Mugnano tydens operaseisoene in Argentinië en elders in Suid-Amerika begin optree het; waar hy 'n beduidende impak gemaak het. In Buenos Aires gee hy die eerste Suid-Amerikaanse vertoning van Die Meistersinger von Nürnberg (in Italiaans) in Augustus 1898. Hy dirigeer premières in Uruguay van Die Walküre, Tosca, Zazà, Don Giovanni, Franchetti se opera Germania, die opera Thaïs en sy eie Vita Brettona, en dirigeer in 1910 Götterdämmerung en Gustave Charpentier se Louise.[7]

Latere toere

[wysig | wysig bron]

Tussen Mei en Augustus 1919 dirigeer hy 'n seisoen van Italiaanse musiek by Covent Garden, waaronder Verdi se Aida, Puccini se Tosca, Madame Butterfly en ander werke, en die eerste Engelse uitvoering van Mascagni se Iris (in Julie, met die sopraan Margaret Sheridan). Die opvoering vind plaas onder die bestuur van Thomas Beecham, wat Mugnoni beskryf het as 'n man met 'n vurige en onbeheerbare humeur ... 'nooit het 'n dag verbygegaan sonder 'n stormagtige toneel met sangers, koor en orkes nie, gepaardgaande met dreigemente om dadelik terug te keer na Italië.' Hierdie tonele het altyd in Beecham se kamer geëindig. Na verskeie soortgelyke gevalle het Beecham kaartjies vir Mugnone en sy gesin voortgebring om die volgende dag na Italië terug te keer. 'Hy het sy mond oop- en toegemaak, sy oë gerol, sy hare deurmekaar gekrap en na 'n paar abortiewe pogings tot spraak uiteindelik uitgeskreeu: "Ek sal jou nooit verlaat nie".' 'n Lang toespraak bestaande uit regverdigings, verduidelikings en 'n verklaring van sy voorliefde vir Engeland het hierop gevolg, en die seisoen het voortgegaan: daarna was die lewe 'n bietjie stiller, ten minste vir Beecham, wat Mugnone se interpretasies van Verdi beskou het as die beste wat hy ooit gehoor het. [8]

In Maart 1921 het hy 'n seisoen in Lexington, Kentucky, Verenigde State begin, met 'n operageselskap onder leiding van Iva Pacetti. Van Mei tot Julie 1925 was hy terug in Covent Garden vir Aida, Andrea Chénier (met Margaret Sheridan, Giacomo Lauri-Volpi en Benvenuto Franci), Il barbiere di Siviglia (met Toti dal Monte) en Tosca (met Maria Jeritza).

Argief en eerbewyse

[wysig | wysig bron]

Mugnone het omstreeks 1933 2000 dokumente aan die Museums van La Scala, die Rome Opera en Konservatorium van Napels bemaak. Die dokumente sluit briewe deur Verdi, Massenet, Mascagni, Strauss en Leoncavallo in, asook 'n beduidende aantal dokumente van Puccini.

'n 'Teatro Mugnone' (na hom vernoem) in die Italiaanse Commune van Marcianise is onlangs gekoop en gerestoureer.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • A. Eaglefield-Hull, A Dictionary of Modern Music and Musicians (Dent, Londen 1924).
  • G. Gatti-Cassazza, Memories of the Opera
  • Enzo Raucci,"Vita e Opere di L. Mugnone", in Aspettando il Teatro Mugnone, Omaggio al Mo. Leopoldo Mugnone, (Unartgroup, Associazione Culturale Universitaria at www.unartgroup.it).
  • Titta Ruffo, La mia parabola artistica, (Milano 1937).
  • E. De Leva, "Leopoldo Mugnone nel dolore e nell’arte", Corriere di Napoli, 6 August 1941.
  • A. De Angelis, "Aneddoti sit Mugnone", in La Voce d'Italia, 23 November 1941.
  • Giuseppe Depanis, I Concerti Popolari ed il Teatro Regio di Torino: Quindici Anni da Vita Musicale, 1872-1886 (2 vols). (Societa Tipografico-Editrice Nazionale, Torino 1914-1915)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. See Giovanni Borrelli, "Vita e Opere di L. Mugnone", in Aspettando il Teatro Mugnone, Omaggio al Mo. Leopoldo Mugnone, (Unartgroup, Associazione Culturale Universitaria).
  2. G. Borrelli, 'Vita e opere', etc.
  3. S. VanDiver Nicassio, Tosca's Rome: The Play and the Opera in Historical Perspective (University of Chicago press, 2002), p. 24.
  4. Lys in G. Borrelli, "Vita e Opere."
  5. H. Rosenthal en J. Warrack, Concise Oxford Dictionary of Opera (OUP, druk van Londen 1974).
  6. See list appended to G. Borrelli, "Vita e Opere, etc."
  7. S. Salgado & J. M. Sanguinetti, The Teatro Solis: 150 Years of Opera, Concert and Ballet in Montevideo (Wesleyan University Press, 2003), p. 130.
  8. T . Beecham, A Mingled Chime, Leaves from an Autobiography (Hutchinson, Londen 1944, 180).

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • Item deur Alessandro Tartaglione, Assessore alla Cultura del Comune di Marcianise, sopra il Teatro Mugnone (Italiaans) Geargiveer 23 Januarie 2009 op Wayback Machine