Gaan na inhoud

Kruisteken

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Posisie van die vingers met die maak van die kruisteken volgens die Bisantynse tradisie.

Die kruisteken (Latyn: signum crucis) is ’n ritueel wat in baie Christelike kerke gebruik word. Dit word uitgevoer deur die vorm van die kruis met die regterhand oor die liggaam te trek.

Daar is twee hoofmaniere om dit te doen: die een is van regs na links met drie vingers, soos in gebruik in die Oosters-Ortodokse Kerk volgens die Bisantynse tradisie; die ander is van links na regs met die oop hand, soos in die Rooms-Katolieke, Anglikaanse, Metodiste-, Lutherse Kerk en die Oriëntaal-Ortodokse kerke. Dit word selde in ander Christenkerke gebruik.

Die teken

[wysig | wysig bron]
Hand

Die oop hand word in die Westerse Christendom gebruik. Die vyf vingers stel vir baie die vyf wonde van Christus voor. In Oosters-Ortodokse en Oosters-Katolieke kerke vorm die duim, wysvinger en middelvinger saam ’n punt. Dit stel die Heilige Drie-eenheid (Vader, Seun en Heilige Gees) voor. Die ander twee vingers word teen die palm van die hand gehou en stel die twee nature van Christus voor.

Bojarinja Morozowa, deur Wasili Soerikof, wys hoe Bojarinja Morozowa, ’n Ougelowige, gearresteer word terwyl sy twee vingers omhoog hou. Sy is later tot heilige van die Ougelowiges verklaar.

In die Russies-Ortodokse Kerk is in die verlede twee vingers gebruik om ’n punt te vorm as teken van die twee nature van Christus. Onder die hervormings van patriarg Nikon in 1666, toe onder meer bepaal is dat die kruisteken met drie vingers gemaak moet word om die Kerk in lyn te bring met die res van die Ortodokse kerke, het ’n skeuring in die Kerk ontstaan. Die Ougelowiges het geweier om die hervormings te aanvaar en is lank vervolg. Hulle gebruik steeds net twee vingers.

Beweging

Die kruisteken word gemaak deur die hand na die voorkop te bring terwyl die persoon dikwels sê "in die naam van die Vader", daarna na die bors of maag ("en die Seun") en oor die skouers ("en die Heilige Gees"), en eindelik "Amen".

Volgorde

Westerse Christene en die Oriëntaal-Ortodokse kerke raak eers aan die linker- en dan aan die regterskouer. Ortodokse Christene gebruik ’n beweging van regs na links.

Gebruik

Die kruisteken word as ’n reël gemaak aan die begin of einde van ’n gebed, soms ook by ’n ikoon of as iemand verby ’n kerkgebou loop. Tydens (meestal aan die einde van) dienste maak die priester of dominee die kruisteken in die lug as ’n teken van seën. Daar is ook talle ander gebruike, wat wissel van kerk tot kerk.

Hierdie artikel is merendeels vertaal uit die Engelse Wikipedia