Gaan na inhoud

Klein Beer

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Klein Beer
Latynse naam Ursa Minor
Genitief Ursae Minoris
Afkorting UMi
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming 15h
Deklinasie 75º
Grootte 256 vk. grade (56ste)
Kwadrant NQ3
Besonderhede
Hoofsterre 7
Helderste ster Polaris
Naaste ster UU Ursae Minoris
Sterre helderder as 3 m 2
Sterre met planete 1
Messier-voorwerpe 0
Bayer-/Flamsteed-sterre 23
Meteoorreëns Ursids
Aangrensende sterrebeelde
Draak, Kameelperd, Kefeus
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Die Klein Beer of Klein Wa (Latyn: Ursa Minor) is ’n sterrebeeld in die noordelike hemelruim. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde. Nes by die Groot Beer kan die Klein Beer se stert gesien word as die handvatsel van ’n lepel, vandaar die Engelse naam Little Dipper wat soms gebruik word.

Die Klein Beer is veral bekend daarvoor dat die noordelike hemelpool daarin geleë is, hoewel dit oor ’n paar eeue sal verander vanweë die presessie van die nagewenings.[1] Vanweë sy beweging beskryf die aarde se as in 25 770 jaar ’n groot draaiende keël aan die hemel, sodat die twee hemelpole in ’n sirkel beweeg en dus langsamerhand skuif.

Ruimtevoorwerpe

[wysig | wysig bron]

Die sewe helderste sterre van die Klein Beer vorm die handvatsel van ’n opskeplepel. Die ster aan die einde van die handvatsel is Polaris, die noordelike poolster. Die vier sterre wat die "kom" van die opskeplepel vorm, is ongewoon omdat hulle ’n helderheid van 2, 3, 4 en 5 mag het. Hulle is dus ’n nuttige gids om die helderheid van sterre te meet (en as ’n oogtoets vir stadsjapies).

Die ses sterre in die sterrebeeld wat name het, is:

Gewone
naam
Wetenskaplike
naam
Oënskynlike
helderheid
Afstand
(ligjare)
  Polaris (noordelike poolster)      Alpha Ursae Minoris (α UMi)       2,02      430
  Kochab      Beta Ursae Minoris (β UMi)       2,07      126
  Pherkad      Gamma Ursae Minoris (γ UMi)       3      480
  Yildun      Delta Ursae Minoris (δ UMi)       4,85      185
  Ahfa al Farkadain      Zeta Ursae Minoris (ζ UMi)       4,32      376
  Anwar al Farkadain, Alasco      Eta Ursae Minoris (η UMi)       4,95        97

Polaris, die helderste ster in die sterrebeeld, is ’n geel-wit superreus met ’n sigbare magnitude van 2,02. Dit is ’n Cepheïed, ’n seldsame klas veranderlike sterre. Kochab is net effens dowwer as Polaris. Dit is ’n oranje reusester van 2,08 mag, 16 grade van Polaris af. Met ’n oppervlaktemperatuur van 4 000 K is dit 130 keer so helder soos die son.

Die Klein Beer bevat ook die Ursa Minor-dwergsterrestelsel.

Geskiedenis en mitologie

[wysig | wysig bron]

Die sterrebeeld word meestal uitgebeeld as ’n klein beer met ’n besonder lang stert. Die Klein en Groot Beer is deur die Antieke Grieke verbind met die nimf Kallisto en haar seun Arkas. In ’n ander weergawe waar die Veewagter Arkas voorstel, is die Klein Beer ’n hond. Dit verklaar die lengte van die stert en die verouderde alternatiewe naam vir Polaris, die noordelike poolster: Cynosura ("die hond se stert").[2]

Die Klein Beer is voorheen beskou as net sewe sterre wat na aan mekaar geleë is, wat in die mitologie as susters beskou is (nie die bekende sterreswerm Sewe Susters nie). In die vroeë Griekse mitologie was die sewe sterre van die Klein Lepel die Hesperides, die dogters van die Titaan Atlas. Saam met die nabygeleë sterrebeelde Veewagter, Groot Beer en Draak kon dit die oorsprong gewees het van die mite van die appels van die Hesperides wat deel vorm van die twaalf take van Hercules.

Omdat die Klein Beer eers net uit sewe sterre bestaan het, is die Latynse woord vir "noord" (wat deur Polaris aangewys word) septentrio, van sewe en drie (die sewe sterre lyk ook soos drie osse voor ’n wa).

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Guilherme de Almeida (2004). Navigating the Night Sky: How to Identify the Stars and Constellations. Springer. ISBN 1-85233-737-0.
  2. Allen, Richard Dinckley (1969). Star Names: Their Lore and Meaning. Dover Publications Inc. (Herdruk van die oorspronklike 1899-boek). ISBN 0-486-21079-0.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]