Gaan na inhoud

Isostasie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Ysberg dryf in water, terwyl 'n groot deel onder die wateroppervlak is. Op dieselfde manier "dryf" die Aarde se litosfeer op die astenosfeer.

Isostasie en isostatiese ewewig is terme wat gebruik word om die toestand van swaartekragewewig van 'n drywende voorwerp in 'n vloeistof aan te dui.

Isostasie spruit uit die Wet van Archimedes, wat in die bad gesit en besef het as 'n voorwerp onder die water geplaas word, is die massa van die water wat verplaas word gelyk aan die massa van die hele voorwerp. Hoe swaarder die voorwerp, hoe groter deel sal onder die water wees.[1]

'n Voorbeeld van isostasie is 'n drywende ysberg in die see. 'n Gedeelte van die ysberg sal onder die water wees. Sowel die hoogte wat die drywende voorwerp (die ysberg) het (ten opsigte van 'n willekeurige verwysingspunt) as die diepte waartoe die voorwerp in die water indring, hang van die volgende faktore af:

  • die hoogte of dikte van die voorwerp;
  • die digtheid van die voorwerp; en
  • die digtheid van die vloeistof.

'n Mens kan ook werk met die verhouding tussen die digthede; dan word die laaste twee faktore gekombineer.

In die geologie en geofisika

[wysig | wysig bron]
Die astenosfeer in verhouding met die ander lae in die struktuur van die Aarde.

In die geologie en geofisika word isostasie gebruik om hoogteverskille op die Aarde natuurkundig te verklaar, soos waarom 'n berg hoër as 'n vlakte lê. Dit is omdat die litosfeer (aardkors) en astenosfeer (die boonste deel van die aardmantel) in isostatiese ewewig is. Die aanname is dat die vervormbare astenosfeer optree soos 'n vleistof waarin die litosfeer dryf. Onder 'n berg sal 'n sogenaamde wortel in die astenosfeer insteek, omdat die litosfeer hier dikker (en daarom swaarder) as op ander plekke is. Die hoogte van 'n berg en die diepte van die "wortel" hang af van:

  • die digthede van die astenosfeer en litosfeer; en
  • die dikte van die litosfeer.

Dit lyk of sommige dele van die litosfeer nie in isostatiese ewewig is nie, soos die Himalaja. In dié gevalle speel ander faktore 'n rol: In die geval van die Himalaja word die enorme hoogte bereik deur die sywaartse krag wat veroorsaak word deur die noordwaartse beweging van die Indiese plaat.

Wat kontinente betref, druk die sterker litosfeer op die swakker (makliker vervormbare) astenosfeer, waardeur materiaal in die astenosfeer lateraal wegstroom, en verskille in dikte van die litosfeer omgesit word in verskille in hoogte.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Watts A.B.; 2001: Isostasy and Flexure of the Lithosphere. Cambridge University Press, p. 15-17. ISBN 0-521-00600-7}}

Skakels

[wysig | wysig bron]